1. My Pad na Begrip van die Mensdom¶
Waar kom siekte vandaan? Dit is 'n vraag wat elke pasiënt wat deur siekte geteister word, hulself afvra. Gedurende my mediese studies in Freiburg en tydens residensie, het ek uitgebreide spesialiskennis uit die literatuur en van ervare dokters geleer. Dit het my onder die indruk gebring dat ek hierdie vraag verstaan en kan beantwoord. Daar was egter spoedig 'n pasiënt voor my vir wie se probleem ek geen bevredigende oplossing gehad het nie.
Geval 1
My pasiënt was 'n bejaarde man wat al 'n geruime tyd ervaar het dat sy ore herhaaldelik "toegeslaan" het. Hy het my kom spreek om hierdie probleem op te los. My diagnose was eenvoudig. Dit is veroorsaak deur die disfunksie van die ventilasie van die middeloor, die sogenaamde eustachiusbuis tussen die farinks en die middeloor. Konvensionele medisyne verklaar die oorsaak as 'n gebrek aan vloeistof in die pasiënt se sirkulasie. Daarom het ek hom aangeraai om meer vloeistof in te neem, en ek was oortuig dat ek hom gehelp het.
Die pasiënt het egter na 'n paar weke teruggekeer: "Dokter, ek drink waarskynlik nou 3 liter water per dag, maar my ore slaan steeds toe". As sy dokter kon ek hom aangeraai het om nóg meer water te drink. Ek kon ook op die pasiënt se ouderdom gewys het en sy siekte as 'n normale deel van veroudering verduidelik het. Die vraag wat by my onstaan het, was of dit my na die ware oorsaak van sy probleem gelei het?
Met my kundigheid kon ek simptome identifiseer en ʼn diagnose maak, maar ek kon nie ‘n antwoord kry waarom my pasiënt siek was nie. As dokter wou ek egter met 'n skoon gewete aan my pasiënte kon sê wat die oorsaak van hul siekte is sodat ek hul simptome permanent kon oplos. Ek wou nie langer my pasiënte alleen laat met hul vrae nie, maar eerder antwoorde gee wat ek self verstaan.
My naam is Dr. Horst Müller. Ek praktiseer al twintig jaar as 'n keel-neus-en-oor (KNO) arts in Weinheim. Om die oorsaak van siekte te bepaal was vir my belangrik, want om bloot die simptome te behandel, was nie genoeg nie.
Kom ek verduidelike dit met 'n eenvoudige analogie: Die oorsaak van skimmel in 'n huis is verklaarbaar skimmel onstaan as gevolg van vog. As 'n spesialis slegs 'n skimmelverwyderaar aanbeveel, maar nie die oorsaak aanspreek nie, is dit onaanvaarbaar. Die skimmelverwyderaar sal nie die vog uitskakel nie.
Ontvogtigers is ook nie 'n oplossing nie, dit behandel slegs die simptome solank die oorsaak van die vog nie verwyder word nie. Slegs wanneer die oorsaak van die vog geïdentifiseer en verwyder is, kan skimmelgroei werklik voorkom word.
In baie beroepe is spesialiste goed vertroud met hul onderskeie velde. 'n Motorwerktuigkundige ken elke onderdeel van 'n voertuig. 'n Argitek is vertroud met die eienskappe van die boumateriaal wat gebruik word. 'n Dokter, daarenteen, ken dikwels nie werklik die persoon wat hom/haar kom spreek nie en kan dus nie die oorsaak van 'n siekte aanspreek nie. Ongelukkig kan die mediese wetenskap in die meeste gevalle nie die oorsaak van siekte aan 'n pasiënt verduidelik nie, bloot omdat dit onbekend is. Hierdie gebrek aan kennis spruit uit die feit dat die mediese wetenskap selde die mens as ‘n holistiese wese beskou. In my spreekkamer het ek myself daartoe verbind om ‘n holistiese benadering te volg en die persoon as geheel te sien. "Die neus" of "die oor" het skielik 'n persoon met vrae geword.
Tydens my opleiding het ek goed vertroud geraak met simptoomherkenning en kon sewentig pasiënte binne vyf ure ondersoek. As die eerste pasiënt na my sou terugkeer nadat ek die ander nege-en-sestig ondersoeke gedoen het, sou ek nie die persoon onthou het nie, maar die neus of oor wat ek ondersoek het sou vir my bekend gewees het as iets wat ek reeds daardie dag gesien het. Hierdie situasie met soveel onbeantwoorde vrae het my moedeloos gestem, want metafories gesproke wou ek nie swamdoders verkoop sonder om te weet hoekom die muur klam word nie.
Om die oorsaak van siekte te bepaal, het ek my nie tot boeke of die internet gewend nie, maar tot die pasiënte self. Aangesien dit moeilik is om in diepte met sewentig pasiënte in beperkte spreekure te gesels, het ek meer tyd begin maak om na my pasiënte te luister. Die eerste stap was om ‘n tydlyn van die pasiënte se mediese geskiedenis op te stel. Ek het alle groot en klein klagtes, siektes, operasies en geboortes aangeteken. ‘n Mediese geskiedenis is algemene praktyk, maar om werklik jou pasiënt te leer ken verg tyd.
Ek doen steeds hierdie aanvanklike onderhoude vandag, en sommige pasiënte is verbaas dat hulle soveel vrae by die KNO-arts moet beantwoord. My verduideliking is dat ek 'n geheelbeeld van die pasiënt benodig sodat ek nie net die een simptoom aanspreek nie, maar die mens as geheel – met sy/haar agtergrond en siekte – kan begryp.
Ek het die pasiënte se siektes en mediese behandeling, teen die agtergrond van hulle lewensgeskiedenis begin plaas. Die naaste verhoudings, ervarings en lewens gebeure, is veral van kardinale belang. Op 'n geestelike vlak verskaf dit die belangrikste inligting oor die mens. Daarom het ek verhoudings met ouers, tussen ouers, met eggenote, met kinders, ensovoorts, ingesluit. Ek het ook gebeure soos ‘n huwelik, egskeiding, die dood van nabye familielede, beroepssituasies en gebeurtenisse soos werksveranderinge en verskuiwings bygevoeg. Beduidende lewensgebeure soos ernstige trauma, byvoorbeeld ervarings van geweld en mishandeling, vorm ook deel van die holistiese benadering. Ek het al hierdie punte in lyn gebring met die fisiese simptome op die tydlyn van die pasiënte se lewens.
Nadat ek hierdie data vergelyk het, het ek besef dat daar niks is wat beter by my pasiënte se simptome pas as hul "geestesgeskiedenis" nie. Dit was ook die geval met die pasiënt met die verstopte ore. Dit was nie die fisiese invloede wat die ongemak en disfunksie veroorsaak het nie. Ek het besef dat daar 'n direkte verband moet wees tussen wat die persoon ervaar het en hul fisiese simptome.
Was dit dan 'n gedagte wat veroorsaak het dat die oor toegemaak of geblokkeer het, en nie dehidrasie nie? Om uit te vind, moes ek delf in iets wat dikwels slegs op die oppervlak bestudeer word in konvensionele medisyne: menslike denke, of liewer, gedagtes, en hul rol in die menslike liggaamlike gesteldheid. Die vrae wat onstaan het, was: Wat is gedagtes? Waar kom hulle vandaan? Selfs belangriker: Waar begin hulle?
Gedagtes moet immers êrens vandaan kom en 'n begin hê.
Na baie aannames en die lewensverhale van vele pasiënte – daar is nou tienduisende van hulle – het dit vir my duidelik geword wat die oorsaak van mense se siekte is.
