8. Die Leuen wat Ons Voortdurend Vergesel¶
Toe ek begin het om met my pasiënte te gesels, het ek opgemerk dat hulle almal een innerlike oortuiging deel: die behoefte om geliefd te voel. Blykbaar glo mense dat, deur geliefd te voel, hul behoefte aan vervulling bereik word. Die verhale van al my pasiënte draai op een of ander wyse om liefde en die herhaalde gedagte: Ek voel nie geliefd nie.
Om hierdie punt te illustreer, beskryf ek ’n paar gevalle uit my praktyk wat die verwagting om liefde te ervaar duidelik uitlig.
Geval 6
’n Jong pasiënt kon vir drie dae lank nie sluk of eet nie, en ek kon geen fisiese afwykings by haar opspoor nie. Die vrou was reeds twee jaar getroud. Haar man se suinige gedrag het haar geweldig ontstel. Hy wou nie op wittebrood gaan nie, maar sy het hom net-net oorreed. Die aand by die hotel het sy mooi aangetrek en verwag het dat haar man haar vir aandete sou neem, maar sy reaksie was: "Kom ons gaan supermark toe en koop iets om te eet." Dit was nou nie juis romanties nie?
So het die vrou ’n suinige man getrou, iemand wat bespaar waar hy kan. Selfs tydens hul wittebrood het sy só ontsteld geraak dat sy in die hotel se swembad selfmoord probeer pleeg het. Net voor haar besoek was daar nóg ’n voorval wat getoon het dat haar man in die twee jaar wat hulle getroud was glad nie verander het nie.
Alle menslike probleme spruit uit die oortuiging dat ander hulle nie liefhet nie. Waarom word ’n moeder kwaad wanneer haar seun nie die gebruikte skottelgoed was nie? Dis nie omdat sy nie die skottelgoed kan was nie – sy doen dit immers al jare lank. Sy word kwaad omdat sy onbewustelik dink dat haar seun haar nie liefhet nie, of dat sy nie waardeer word nie; want, so redeneer sy, as hy haar werklik waardeer het, sou hy nie die skottelgoed vir haar los nie. Byna alle boeke oor verhoudings verkondig: "Jy moet liefgehê word; dit is ’n verhouding van gee en neem."
Hierdie wanopvatting – dat iemand anders daar moet wees om in ons behoeftes te voorsien – vergesel ons dikwels dwarsdeur ons lewe en veroorsaak innerlike konflik en probleme. Uit hierdie wanopvatting spruit nog ’n verkeerde aanname: "Ander mag nie verkeerd teenoor my optree nie." Dit impliseer dat ander nie vir my mag lieg, my bedrieg, my slaan of van my steel nie. Ek het ’n merkwaardige geval in my praktyk teëgekom wat hierdie feit illustreer.
Geval 7
’n Pasiënt was diep ontsteld omdat sy vermoed het dat haar man ’n buite-egtelike verhouding het. Sy het hom daarvan beskuldig, maar hy het dit telkens ontken – totdat hy dit eendag erken het en besluit het om te skei. Die pasiënt was minder ontsteld oor die ander vrou as oor die feit dat haar man vir haar gelieg het. Ek het haar gevra: "Wie is jy dat jou man aan jou eerlikheid verskuldig is?"
Meer algemeen gestel: Wie is ek dat enigiemand my enigiets verskuldig is? Mag ander vir my lieg, my bedrieg, my slaan of iets van my steel? In praktyk mag hulle, al oortree hulle die wette van die staat daardeur. Die oomblik wanneer ek nie duld wat ’n ander persoon doen nie – dus, wanneer ek hul reg wegneem om na goeddunke op te tree – neem ek myself gevange en raak onsteld daardeur.
Twee eenvoudige vrae ontbloot die onlogiese aard van ons evaluering van ander mense se liefde. Wanneer ek my pasiënte vra: "Kan iemand anders vir jou dink?", antwoord hulle korrek: "Nee." Stel ek die vraag effens anders: "Het jy nodig dat iemand jou moet liefhê?", antwoord almal: "Ja!" Dit het bewys dat mense se persepsie nie konsekwent of deurslaggewend is nie.
Indien dit inderdaad nodig was dat iemand anders my werklik lief moes hê, sou dit dan nie ook vereis dat iemand anders namens my liefdevolle gedagtes moes dink nie? My pasiënte se antwoorde op hierdie twee, in wese soortgelyke, vrae is dus teenstrydig. Mense besef dikwels nie hoe misleidend hul persepsies van ander mense se gedagtes is nie.
Waarom wil almal geliefd voel? Waar kom die oortuiging vandaan dat, wanneer ’n mens as kind van jou moeder se liefde ontneem is, jy as volwassene daardeur benadeel sal wees?
Ek het ’n pasiënt van oor die veertig gehad wat teruggedeins het toe ek sy ore probeer ondersoek het. Ek het hom gevra waarom hy so bang was, waarop hy geantwoord het: “Omdat my ouers my nie liefgehad het nie!” Het volwassenes werklik vrese weens die gebrek aan ouerliefde in hul jeug? Ons besef dikwels nie dat wat ander doen of nie doen nie, van geen werklike betekenis is vir die bevrediging van ons behoeftes nie. Slegs dit wat ons doen is deurslaggewend vir ons behoeftes en lewens.
Die idee dat "ek liefgehê moet word sodat my geestelike behoeftes vervul word", is ’n leuen, eenvoudig omdat dit nie moontlik is nie. Niemand kan die fisiese of geestelike behoeftes van ’n ander persoon vervul nie. Ons liggame openbaar hierdie selfbedrog deur negatiewe emosies en siekte.
Ons liggame weerspieël inderdaad of ons gedagtes op die waarheid of op ʼn leuen berus. Jy kan nie vir jou liggaam lieg nie; dit reageer suiwer en sonder alternatief. Die liggaam benodig, onder meer, ʼn elektriese stroom om te funksioneer, en hierdie stroom word deur die verstand opgewek. Die verstand het op sy beurt ook behoeftes, wat bevredig moet word voordat dit doeltreffend kan funksioneer. Die verstand is aanvanklik leeg totdat dit inligting ontvang.
Ten einde ons behoeftes te vervul, moet drie vrae beantwoord word: wie, hoe en van waar? Wie is verantwoordelik dat ek eet? Ek alleen is daarvoor verantwoordelik, want niemand anders kan vir my eet nie. Om te eet beteken om die liggaam se behoefte aan voeding, wat ons vantevore uit die natuur geneem het, te bevredig. Ons eet volgens die basiese Wet van die Lewe: ons moet eers neem voordat ons kan gee.
Wanneer ons na die geestelike vlak beweeg is die vraag: Wie is verantwoordelik om te verseker dat my gees genoeg liefde ontvang? Wie is verantwoordelik om seker te maak dat ek geestelik “vervuld” voel? Net soos by fisiese behoeftes, is ek self daarvoor verantwoordelik. Hoe doen ek dit? Die menslike struktuur toon dat liefdevolle gedagtes teenoor my naaste noodsaaklik is om die vloei van energie te skep wat vir my liggaam voordelig is. Hierdie inligting moet egter eers geabsorbeer word voordat dit gedeel kan word.
Mense besef dikwels nie dat liefde ook uit twee aksies bestaan nie – gee en neem. Daar word dikwels geglo dat liefde uitsluitlik gee impliseer. In werklikheid blyk dit egter dat wanneer ek nie liefdevolle gedagtes oor ’n ander kan dink nie, bloot omdat daardie persoon nie aan my behoeftes voldoen nie, neem ek die inligting van daardie persoon en gee ek presies dit terug wat ek ontvang het. As my maat in disharmonie met my is of vyandig optree, doen ek dieselfde. As my maat liefdevol is, reageer ek gewoonlik liefdevol, voel goed daaroor. Solank ek liefdevolle gedagtes koester, veroorsaak hierdie gedagtes ’n vloei wat tot voordeel van my liggaam strek, wat beteken dat dit nie beskadig/siek word nie.
Die beginsel van gee en neem geld ook vir gedagtes. Die liefdevolle gedagte is die gee, maar waar kry ek dit oorspronklik vandaan? Waarom kan ek dit nie bloot teenoor iemand wat my nie liefhet nie bewys nie? Omdat die gees vasgevang is in die wanopvatting dat sy behoefte slegs bevredig kan word as die ander persoon iets gee. Dit lei tot ’n fokus op die optrede van ander.
Woorde is nie altyd bepalend nie. Selfs woorde soos “Ek is lief vir jou” mag woede en stres ontlok as dit uit die mond van iemand kom wat jou gister seergemaak het. Hoe reageer en voel mens dan? As die woorde nie oortuigend is nie, reageer jy met liefdelose gedagtes, wat ’n elektriese impuls veroorsaak wat ʼn negatiewe emosie ontlok.
Dit beklemtoon dat gevoelens nie deur ander se optrede ontstaan nie, maar uitsluitlik deur jou reaksie daarop. Waarom kan ek nie sonder meer positief reageer op iemand anders se negatiewe optrede nie? Hoekom bly ek nie objektief nie en voel ek negatief of seergemaak daardeur? Omdat die leuen in die menslike hart hom onbewustelik laat glo dat die ander persoon hom iets skuld – indien nie liefde nie, dan ten minste vriendelikheid.
Die idee dat ons ’n behoefte het om liefgehê te word, is nie funksioneel nie; die wet van gee en neem sluit dit uit. Iets wat my persoonlik raak, kan nie van buite af op my afgedwing word nie. Niemand kan aan ’n ander iets gee as daardie persoon dit nie wil of kan ontvang nie. Elke mens het ’n effek op die ander, maar die impak daarvan hang uitsluitlik van die ontvanger af. Ongeag watter gedrag jou te beurt val – positief of negatief – as jy dit nie ontvang nie, het dit geen invloed op jou nie.
Volgens die wet van gee en neem moet ek liefde van êrens bekom voordat ek dit kan uitdeel. As ek nie die persoon kan liefhê wat my nie liefhet nie, word een ding duidelik: juis dié persoon beskou ek as my bron van liefde, en ek wil liefde of erkenning van hom/haar ontvang. Indien ons die struktuur van mense begryp, verskaf die basiese Wet van die Lewe aan ons ’n absolute en betroubare maatstaf van oorsaak en gevolg. Deur die basiese wetmatighede van alle funksies in die heelal en die menslike struktuur as vertrekpunt te neem, kan ons byna alle lewensverskynsels klassifiseer en verduidelik. Die mens het boonop die vermoë om te reflekteer, wat hom in staat stel om introspeksie te doen en sy eie belewenis te evalueer.
